Mymeringe

Laat kinders net kinders wees

'n paar jaar gelede, iewers in September/Oktober is die openingsaand van die Nasionale gimnastiekbyeenkoms. My kleinniggie van Kimberley neem deel en baie braaf trotseer ek die koue wind wat warrel om die Velladrome in Bellville.

'n bietjie traag om in die week uit te gaan en ook glad nie erg oor gimnastiek nie, was my bui nie van die beste nie, maar nouja, ter will van die liefde doen 'n mens soms snaakse dinge.

Terwyl ek my verkyk aan die kleure en geure, skuif die leerders van 'n skool vir gestremdes al om ons in die beskikbare sitplekke in. Party van hulle kon jy nie sien op watter manier  hulle gestremd is nie, maar met ander was dit voor die handliggend. Twee vrywilligers van Engeland help uit en dit verbaas my hoe op hul gemak hulle met die kinders is. My slegte bui verdamp sommer daar en dan soos mis voor die son.

Wat vir my veral opvallend is, is die kinders se blydskap en sin vir humor. Hulle lag vir hulself en terg mekaar tog te lekker. 'n paar van hulle neem deel aan die openingsprogram en my hart smelt behoorlik in my binneste. 'n buksie wie se handjies uit sy skouertjies kom, hy het geen arms nie, vergas ons met sy 'briekdans' terwyl die res hom luidkeels aanmoedig. In die optog van al die spanne kan jy sien dat die ou kort beentjies moeg word, maar steeds versier 'n wye glimlag die gesiggie.

Een van die outjies, 'n swart seun van ongeveer twaalf jaar is in sy rolstoel toe 'n wit dogtertjie van ongeveer drie/vier jaar oud nader staan om die rolstoel van nader te bekyk. Sy het gebuk en die wiele bestudeer terwyl sy aanhoudend met die maat babbel. Hulle ruil name uit en sy vra hom waar sy mamma dan is. Hy antwoord ewe geduldig dat sy mamma by die huis is. Aan die einde van hul gesprek toe haar mamma haar roep om te kom sit, mik sy om die nuwe vriend van haar te soen. Ek sien die groot skrik op sy gesig toe hy keer en ek besef weereens wat se skade ons geslag aan die kinders gedoen het. 

Kinders aanvaar mekaar so natuurlik, dit is ons wat hulle leer dat daar verskille is, hetsy ras, kultuur of liggaamlik.

Geen wonder Jesus het self gesê dat indien ons nie soos 'n kindjie word nie, ons nie in die hemel sal kom nie. Kom ek en jy kyk verby al die 'buite-goed' na die hart van elkeen waarmee ons te doen kry. Kom ons kyk diep in hul oë en sien wat in hul siel aangaan, die oë is mos immers die vensters van die siel en bowenal, kom ons vergeet van tot gevolgtrekkings kom! Laat geld die gebod van liefde wat Jesus ons beveel het, dit vereenvoudig die lewe soveel!


 899,    07  Dec  2016 ,   Mymeringe

About MEC

MEC Community Services is an inter-denominational ministry under leadership of Marinda E Cornelius, who focusses on the upliftment of the communities in the Western Cape, in South Africa as well as the spreading of the Gospel of Jesus Christ throughout Africa.

MEC Mini Calendar

November   2017
S M T W T F S
      1 2 3 4
5 6 7 8 9 10 11
12 13 14 15 16 17 18
19 20 21 22 23 24 25
26 27 28 29 30